
INLEIDING
Wesensverdienste per aandeel( ander naam vir Hooflyn verdienste per aandeel) rapporteer slegs ‘n maatskappy se inkomste uit bedrywighede, handel en beleggings. Wesensverdienste sluit dus eenmalige of uitsonderlike items(afwykings) uit. Ontleders kyk na wesensverdienste as ‘n basis hoe ‘n maatskappy in sy normale besigheidsaktiwiteite opereer en presteer. Moenie HEPS met EPS verwar nie. HEPS sluit die uitsonderlike items(afwykings) uit, terwyl EPS(Earnings Per Share – Verdienste Per Aandeel) die uitsonderlike items(afwykings) insluit.
WAT IS HOOFLYN VERDIENSTE PER AANDEEL EN WAAR HET DIT ONTSTAAN
HEPS(Headline Earnings Per Share) – Hooflyn verdienste per aandeel is in 1993 as ‘n belangrike metings instrument ontwikkel deur Engeland se Instituut vir Beleggingsbestuur en Navorsing(IIMR – Institute of Investment Management and Reseach). Die HEPS is nie deel van die “IFRS”(International Financial Reporting Standards) nie. Internasionale Finansiële Verslagdoeningstandaarde (IFRS) is ‘n stel rekeningkundige reëls vir die finansiële state van openbare maatskappye wat bedoel is om dit konsekwent, deursigtig en maklik vergelykbaar regoor die wêreld te maak. Hierdeur kan alle Finansiële State wêreldwyd deur Rekenmeesters, en ontleders doeltreffend gebruik en opgestel word.
Omdat HEPS nie ‘n IFRS-vereiste is nie, mag dit nie in die Staat van Omvattende Inkomste bekend gemaak word nie, maar eerder in die aantekeninge van Finansiële jaarstate.
Hierdie HEPS is vanaf 1 Maart 2010 ‘n regulatoriese vereiste in Suid-afrika, naamlik dat alle genoteerde maatskappy op die JSE dit moet bekend maak, en daarom sal baie ontleders van genoteerde maatskappye dit gebruik en daarna verwys. Die KING IV Verslag beveel ook aan dat lande dit op hul onderskeie Beurse as ‘n regulatoriese vereiste moet stel. Terloops die hele KING IV Verslag is ‘n vereiste vir ons genoteerde maatskappye op die JSE.
HOEKOM GEBRUIK MARKONTLEDERS HOOFLYNVERDIENSTE PER AANDEEL
Markontleders gebruik dikwels HEPS omdat dit ‘n meer betroubare maatstaf van volhoubare winsgewendheids meting is as gewone EPS(Earnings Per Share) of te wel Verdienste Per Aandeel.
Hier is van die redes hoekom markontleders HEPS verkies:
- Filter abnormale items uit:
HEPS sluit eenmalige winste of verliese (bv. verkoop van ’n gebou, regsgedinge, afskrywings) uit. Dit gee ’n skoner beeld van die maatskappy se kernbedryf.
- Volhoubare prestasie:
Omdat HEPS fokus op herhalende inkomste, kan ontleders beter voorspel hoe winsgewendheid in die toekoms gaan lyk.
- Vergelykbaarheid tussen maatskappye:
HEPS maak dit makliker om maatskappye in dieselfde sektor te vergelyk, sonder dat eenmalige transaksies die prentjie skeef trek.
- JSE-vereiste:
In Suid-Afrika is HEPS ’n verpligte openbaarmaking, juis om beleggers te beskerm teen misleidende EPS-spronge.
- Waarde-bepaling:
HEPS word dikwels gebruik in P/E-verhoudings en ander waardasiemodelle, omdat dit ’n realistiese maatstaf van verdienste is.
- Beleggingsvertroue:
Ontleders en beleggers vertrou HEPS meer, omdat dit minder vatbaar is vir manipulasie deur aandeleterugkope of eenmalige rekeningkundige aanpassings.
HEPS word gewoonlik oor lang termyne(10 jaar en langer) gemeet – dit gee ‘n geheelbeeld van die betrokke aandeel se neiging, wat ‘n goeie aanduiding van stabiliteit weerspieël.
PRAKTIESE VOORBEELD TUSSEN “EPS” EN “HEPS”
- EPS: ‘n Maatskappy verkoop ‘n groot bate/s(beleggings, en of eiendomme – of albei) wat gesamentlik R3.2 miljard opmaak, en word in die Staat van Omvattende Inkomste van die maatskappy opgeneem. Dit laat die EPS geweldig opskiet vir daardie betrokke jaar – net om weer die volgende jaar erg te val.
- HEPS: Die verkoop van bates word heeltemal uitgesluit tydens die berekening van die HEPS. Dit weerspieël die “ware” verdienste van die maatskappy se normale bedryfsaktiwiteite.
Die lang termyn tendens(10 jaar en meer) van die HEPS help om ‘n ingeligte besluit te neem.
GRAFIEK ILLUSTRASIE EN AFSLUITING
Hier is ‘n grafiek ten opsigte van NASPERS, STANDARD BANK, SANLAM en SHOPTIRE se hooflynverdienste per aandeel oor 21 jaar. SANLAM en SHOPTITE toon ‘n stabiele opwaartse kurwe oor die 21 jaar, asook STANDARD BANK wat net in die Covid tydperk(2020) skerp afwaartse gegaan het en toe dadelik weer op gegaan het. NASPERS se hooflynverdienste het wilde swaaie, omdat hy blootstelling het aan die Chinese maatskappy Tencent, en wat geweldig baie beinvloed word deur regulatoriese vereistes van die sosialistiese regering. Hieruit is dit duidelik dat NASPERS se hooflynverdienste per aandeel baie onstabiel is, en aandeelhouers se opbrengste baie wipplank ry. Hooflynverdienste per aandeel is dus ‘n belangrike Finansiële Verhouding wat deel is van ons Fundamentele waardasies.

(Die agtergrond van die grafiek is die Flaminke migrasie by die Makgadigadi-Panne in Botswana.)
Hieronder is die opbrengste van al vier maatskappye oor die afgelope 5 jaar. Hieruit is dit duidelik dat NASPERS die swakste gemiddelde jaarlikse opbrengs oor elke termyn opgelewer het. Die groot wisselvalligheid in die Hooflynverdienste per aandeel bevestig die Chinese blootstelling in Tencent se invloed. Hooflynverdienste per aandeel is dus ‘n belangrike Finansiële Verhouding wat deel is van ons Fundamentele waardasies.
Hierdie is my persoonlike mening en mag onder geen omstandighede as Finansiële/Beleggingsadvies gebruik word om enige beleggingsbesluite te neem nie. Bespreek dit eers vooraf met jou Portefeuljebestuurder.
Leave a Reply